Gemeenskap, SAPD vat só hande - Help die Polisie om misdaad in Welkom hok te slaan

Gemeenskap, SAPD vat só hande - Help die Polisie om misdaad in Welkom hok te slaan
'n Gesamentlike misdaadvoorkomingsoperasie het van 10 tot 15 Februarie in Welkom plaasgevind. Die SA Polisiediens het in samewerking met die Welkom-kommando, Anglogold se sekuriteitsafdeling en verskeie ander veiligheidsmaatskappye veral gelet op huisbraak en diefstal by wonings, dieftal van en uit motors en algemene misdaadvoorkoming. Betrokkenes wat die Polisie se hand in die operasie gesterk het, het vrywillig hul diens aangebied. Die immigrasie-eenheid van die Polisie was ook betrokke. ``Hierdie sigbare polisiëring het beslis misdaad voorkom, wat belangriker is as inhegtenisnemings,'' sę kapt. Gerhard du Toit van die Misdaadvoorkomingseenheid.

Met sektor-polisiëring word gepoog om die SA Polisiediens en die gemeenskap in 'n sekere gebied of voorstad in 'n nouer band saam te snoer. Dit is dan ook 'n filiaal van gemeenskapspolisiëring.

Die ideaal van sektor-polisiëring in Welkom is om 'n vennootskap tussen die Polisie en die gemeenskap in elke sektor tot stand te bring. Die vennootskap word gevorm en gebind deur 'n forum wat in die betrokke sektor funksioneer. Die forum bestaan uit die gemeenskap en die Polisie.

Die polisiebeamptes funksioneer net in die betrokke sektor. Sodoende leer die publiek in 'n sekere gebied die SAPD-lede ken wat daar werk.

'n Voordeel is dat die gemeenskap en die Polisie kragte saamsnoer om aandag aan misdaadprobleme te gee. Die forum betrek dus die gemeenskap by die vermindering van risiko's wat tot misdaad kan lei.

Die forum kan die SAPD ook evalueer.

Die gemeenskap moet positiewe insette lewer om misdaad te help bekamp.

Só 'n forum of vennootskap is nie 'n politieke of winsgewende organisasie nie.

Welkom is in vyf sektore verdeel. In Sektor 5 Riebeeckstad is reeds 'n misdaadvoorkomingsforum, wat al verskeie projekte aangepak het om misdaad te bekamp. Die forum het reeds gelei tot nouer bande tussen die gemeenskap en die Polisie.

Die gemeenskap is die oë en ore van die Polisie. Die Polisie kan nie alleen funksioneer nie. Inwoners word versoek om meer veiligheidsbewus te raak en te let op die wenke wat die Polisie gereeld in die pers publiseer om misdaad hok te slaan.

Vir navrae, bel supt. Liebenberg by (057) 391 6139/6137.
Die polisie se misdaadvoorkomingseenheid, tel. (057) 391-6139/6137.

 

 

 

P.O. Box 119
Bloemfontein
9300

Tel: +27 (0)51 409 8849/50 Fax: +27 (0)51 409 8866